Spek en Sampioenpasta

 
Erkenning aan Landbou Boerekos Uitgawe 9 Somer 2016-‘17

Gerookte varkspek en bruin sampioene is ʼn wen kombinasie. Dikwels hou kinders nie van die smaak van bloukaas nie. Vervang dit dan met ʼn ander soort kaas.

Lewer 8 porsies.

Bestanddele:
  • 1 pak (500g) pasta van jou keuse
  • 1 pak (250g) gesnipperde spekvleis
  • 1 ui, fyngekap
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 30g botter
  • 500g bruin of wit sampioene, fyn gesny
  • Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 30 ml koekmeel
  • 3 ml mosterd poeier
  • 750ml warm melk
  • 60 ml gekrummelde bloukaas of Feta
  • Gekapte pietersielie, om oor te sprinkel

Metode:
1. Kook die pasta in ʼn groot pot vinnig kokende soutwater tot gaar, maar ferm.
2. Braai die spek, ui en knoffel in die botter tot die ui en spek gaar is.
3. Voeg die sampioene by en braai verder tot gaar. (Namate die sampioene gaar word, sal daar baie vloeistof in die pan wees. Moenie bekommerd wees nie, dit moet so lyk.)
4. Sodra die sampioene gaar is, sprinkel die sout, peper, meel en mosterdpoeier egalig oor.
5. Roer tot die mengsel borrel en voeg dan die warm melk bietjie vir bietjie by.
6. Prut, terwyl jy roer tot die sous verdik en gaar is.
7. Voeg die bloukaas by en roer deur.
8. Meng die sous en pasta en skep in ʼn opdienbak.
9. Sprinkel pietersielie oor en sit voor met slaai.