Grondboontjiehoender en rys

 
 
Erkenning aan: TUIS November 2016

Dis moeilik om te kies of die rys of die hoender die apploustrekker is in die duet.

Genoeg vir 4 ruim porsies
Bereidingstyd: 25 minute
Gaarmaaktyd: 1 uur

Bestanddele:
30 ml grondboontjiebotter
5 ml tamatiepasta
2 groot knoffelhuisies, fyngekap
1 rooi brandrissie, gekap
5 ml gerasperde vars gemmer
30 ml fyngekapte vars koljander
15 ml lemmetjie- of suurlemoensap
4 groot stukke hoender
15 ml elk olyfolie en botter
2 uie, gesny
250 ml bruin-wilderys-en-split-ertjiemengsel
250 ml klappermelk, warm
500 ml flou aftreksel, warm
100 ml grondbootjies, gekap
Ekstra vars koljander vir garnering

Metode:
1. Meng die grondboontjiebotter, tamatiepasta, knoffel, rissie, gemmer, koljander en lemmetjiesap saam. Maak die vel van die hoenderstukke los en vryf die mengsel versigtig onder die vel in. Enige oorblywende geurpasta kan oraloor die hoenderstukke gesmeer word. Geur met sout en varsgemaalde swartpeper.
2. Verhit die olie en die botter in ‘n pan met ‘n deksel en braai die hoenderstukke goed bruin oraloor. Hoe groter die stukke, hoe langer moet die braai om seker te maak die vleis sal binne 40 minute gaar prut. Skep uit en braai die uie nou stadig in die geurolie tot goudbruin. Skep die hoenderstukke terug in die pan.
3. Spoel die rys goed af en voeg by die hoenderstukke in die pan. Meng die klappermelk en aftreksel en giet oor de hoender en rys; geur met sout na smaak. Skep die uie bo-op, bedek en laat prut oor matige hitte vir sowat 40 minute of tot die hoender en die rys gaar is. Sprinkel die grondboontjies en nog vars koljander oor.